Wat is die Kanse dat my Kind MIV en Vigs by die Speelskool kan Opdoen?

Vraag: My kind, wat vyf is, het onlangs die plaaslike speelskool begin bywoon. Ek het al so baie dinge gehoor oor MIV en vigs, die nuutste is dat al hoe meer kinders besmet word. Wat is die kanse dat my kind MIV en vigs by die speelskool kan opdoen?

Antwoord: MIV en vigs word dikwels verbind met en oor gedink as 'n kommer en kwessie vir volwassenes. Oor die afgelope dekade het kinders aandag gekry wat MIV en vigs betref, maar nie net as dié wat daardeur geraak word nie, maar ook as dié wat die gevaar van besmetting loop.

Om jou vrese te besweer is dit nodig om te sê dat die grootste gevaar van oordrag van MIV in kinders deur vertikale infeksie is. Dit beteken dat tydens haar swangerskap en met die geboorteproses, 'n MIV-positiewe ma die gevaar loop om die virus aan haar baba oor te dra. Sommige studies dui aan dat babas besmet kan word wanneer hulle geborsvoed word deur 'n MIV-positiewe ma. Ander bronne van MIV-besmetting in kinders is deur kinder seksuele mishandeling en deur mense wat besmet is te versorg (dit is gewoonlik die geval met ouer kinders).

Toenemende navorsing op die gebied van MIV en vigs en kinders toon dat kinders wat vertikaal besmet is, dikwels puberteit bereik en dat dié kinders meer sigbaar geraak het op sekere plekke.
Wat jy dalk raakgeloop het wat die toename in die aantal besmette kinders betref is waarna verwys word as langtermyn vorderaars. Dit is kinders wat vertikaal besmet is en jare lank met die virus saamleef voordat hulle siek word en aan die siekte beswyk.
Dit is kinders wat met MIV besmet is wat relatief gesond bly en wat hulle kinderjare oorleef. Hulle is dus in staat om die meeste dinge te doen wat "normale" kinders doen, byvoorbeeld, skoolgaan, vriende hê, speletjies en sport speel, ens.

Daar is ook dié na wie verwys word as korttermyn vorderaars. Dit is MIV-positiewe kinders wat ook deur vertikale oordrag besmet word, maar weens erg-verswakte immuunstelsels kort na geboorte siek word. Binne die eerste jaar doen hulle gewoonlik talle siektes op en leef dikwels net tot ongeveer die ouderdom van 5. Tydens dié paar jaar vereis hulle dikwels, weens verswakte gesondheid en funksionering, baie meer aandag en is gewoonlik nie in staat om met dieselfde vryheid te ontwikkel as ander kinders van dieselfde ouderdom nie. Dit is dikwels onwaarskynlik dat "stadige-vorderaars" speelskool toe sal gaan.
Met dit in gedagte is dit belangrik om te sê dat terwyl kinders soms rowwe speletjies speel, die kans dat hulle by die speelskool besmet sal raak, baie skraal is.

MIV word oorgedra deur liggaamsvloeistowwe, hoofsaaklik bloed. MIV kan oorgedra word deur:

  • Onbeskermde seksuele omgang
  • Binneaarse dwelmgebruik met die gebruik van besmette naalde
  • Vertikale oordrag (soos voorheen bespreek)
Die bostaande lyk na aktiwiteite waaraan volwassenes blootgestel word en/of ervaar.

Die hooffaktor is egter blootstelling aan bloed, omdat dié liggaamsvloeistof die mees "gekonsentreerd" is met MIV.
Kinders, wat nuuskierig is, kan bekommerd wees oor hulle vriende of iemand wat hulleself seergemaak het en bloei, maar is nie so nuuskierig dat hulle bloed sal hanteer nie. Net om bloed te sien is genoeg om kinders natuurlik versigtig te maak.

Maar soos ons kinders ander belangrike dinge leer, soos hulle adres, telefoonnommers, hoe om die straat oor te steek, sodat hulle veilig kan wees, behoort ons ook ons kinders te leer hoe om hulleself te beskerm wat MIV betref. Natuurlik moet dit, soos alle ingewikkelde dinge wat ons ons kinders leer, ouderdom-toepaslik wees.
Dit sal daarom op "speelskool"-ouderdom nuttig wees om ons kinders te leer wat om te doen wanneer daar blootstelling aan bloed is. Wat nuttig is en wat in baie skole geleer word, is die volgende:

  • Moenie aan die bloed raak nie
  • Roep dadelik 'n onderwyser of ander volwassene
  • Probeer kalm bly en moenie om die beseerde persoon saamdrom nie

Dit is egter ironies dat dit die besmette kind, eerder as die onbesmette kind is wat die groter gevaar loop om siek te word van gedeelte kontak. Speelskole is dikwels plekke waar talle kieme voorkom. Die besmette kind se verswakte immuniteit plaas haar/hom in 'n kwesbare posisie om baie siek te word van 'n kiem wat hulle opdoen wat die onbesmette kind se immuunstelsel in staat sal wees om redelik maklik te beveg.

The content on this page was last updated on 10 January 2006